Jub Jub moes uit ambulans gedwing word
2010-12-17 19:35
Johannesburg – Die musikant Molemo "Jub Jub" Maarohanye en sy mede-beskuldigde Themba Tshabalala is uit 'n ambulans gedwing om plek te maak vir ernstig beseerde leerders ná die ongeluk, het die Protea-landdroshof Vrydag gehoor.
"Hulle kon op hul eie loop en die kinders het op die grond gelê," het Selina Dasheka getuig.
Sy het gesê 'n groep inwoners op die toneel het die twee mans uit die ambulans verwyder sodat die kinders hospitaal toe geneem kon word.
"Hy het gesê hy is bang vir niemand."
Dasheka het gesê Maarohanye het nie gaan kyk wat die aard van die kinders se beserings is nie.
"Die groep mense het hom gaan haal toe hy die toneel wou verlaat en hom aangesê om te wag tot die polisie kom."
Dasheka, wat die ongeluk waarin Andile Mtombeni, Phomelelo Masemelo, Mlungisi Cwayi en Prince Mahube dood is, gesien het, het vroeër getuig dat sy nie haar buurkind wat glo deur Maarohanye se motor getref is, kon uitken nie.
Fumani Mushanana (17) en Frank Mlabo (18) het ernstige beserings, insluitend breinskade, opgedoen.
"Die kinders se lyke het so erg gelyk. Ek kon nie daarna kyk nie," het Dasheka, wat langs die pad gestap het ten tyde van die ongeluk, gesê.
"Hy het voor my grootgeword, maar ek het hom nie herken nie, omdat ek gehuil het."
Dasheka het 'n volle beskrywing aan die hof gegee oor wat die dag van die ongeluk, 8 Maart, gebeur het.
Haar buurvou, die ma van Cwayi, het na haar gekom vir inligting oor die ongeluk.
"Mlungisi se ma het na my huis gekom en gevra wat die kinders wat in die ongeluk dood is, aangehad het," het die hof gehoor.
Dasheka het gesê die ma het begin huil toe sy haar vertel dat die kinders rooi skooltruie aangehad het.
"Sy het begin huil en my so hard gestamp dat ek nie kon asem kry nie. Daarna het sy uit my huis gestorm."
Op 9 Maart het die ma Cwayi se dood in die ongeluk by die plaaslike polisie bevestig.
Dasheka het haar na die polisiekantoor vergesel toe Cwayi nie huis toe gekom het nie.
Sy was die vierde getuie om in die verhoor te getuig.
Die verhoor is tot 8 Februarie 2011 uitgestel.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA