‘Jub Jub het ons seun van ons gevat’
2010-03-10 06:32
André Damons
Johannesburg - Hy was so lief vir hom en het so baie van sy musiek gehou, maar nou het dié man hom van ons geroof.
So het ’n hartseer Joyce Ntoga, tannie van Prince Mahube (17), buite die Kliptown-lykhuis in Soweto gesê enkele minute nadat sy en ander familielede Prince se lyk uitgeken het.
Prince, Phumelelo Masemelo (16), Mlugisi Cwayi (17) en Andile Mthombeni (19) is Maandag dood nadat die musikant Molemo Maarohanye, beter bekend as Jub Jub, en Themba Tshabalala, ’n vriend, in twee Mini Coopers in hulle ingeploeg het.
Die vier vriende is op die toneel dood, terwyl twee ander skoolkinders, Fumani Mushanana (17) en Frank Mlabo (18), ernstig beseer is en na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal geneem is.
Een van die seuns is tans in ’n koma in dié hospitaal.
Maarohanye, wat ook ’n deelnemer aan Survivor SA: Santa Carolina was, en Tshabalala het glo resies gejaag toe die ongeluk gebeur het.
Bloedtoetse is geneem om vas te stel of die mans enige dwelms gebruik het.
Die polisie wag nog op die uitslae van die toetse, het insp. Kay Makhubela, polisiewoordvoerder, gesê.
Volgens insp. Edna Mamonyane, metropolisiewoordvoerder, het asemtoetse gewys Tshabalala se bloedalkoholvlak was twee keer oor die wettige perk en Maarohanye s’n was onder die wettige perk.
Familie, vriende en omstanders het gister met woede en skok gereageer.
“Hy was so ’n slim seun en wou ’n argitek word.
“Hy het altyd aan sy ma gesê: ‘Gee my net twee jaar dan gaan ek die klein huisie van jou verander.’ Jub Jub het ons van hom geroof en hy was so lief vir Jub Jub,” het Ntoga gesê.
Prince se ma, Janette Mahube, was te geskok om met die media te praat.
Moerkgomo Eddie Masemelo, Phumelelo se pa, het Dinsdag gesê Jub Jub moet self dink aan wat hy gedoen het.
“Ek gaan niks sê (oor hom) nie. Hy moet weet hy het my van ’n seun beroof en ek gaan hom nooit weer terugkry nie. Die gereg moet sy gang gaan,” het hy gesê.
Phumelelo se suster, Alucia Kgwerang Sekgatume (22), het gesê sy kan steeds nie glo haar broer is weg nie.
“Danksy Jub Jub is hy nie meer met ons nie. Hy was ’n goeie seun en wou ’n dokter word,” het sy hartseer gesê.
Volgens Selina Dasheka, ’n familievriend van Nonsandise Nancy Cwayi, Mlugisi se ma, het Cwayi haar kind se skoolsak by die ongeluktoneel herken en geweet hy is ook dood.
“Sy het begin skreeu en spring en my gebyt toe ek haar wou vashou. Sy is steeds erg geskok,” het sy gesê.
Nomvula Mokonyane, Gautengse premier, het gister van die families saam met Barbara Creecy, Gautengse LUR vir onderwys, en Bheki Nkosi, LUR vir paaie en vervoer, besoek.
Maarohanye en Tshabalala verskyn vandag op aanklagte van strafbare manslag, roekelose of nalatige bestuur en bestuur onder die invloed van dwelms in die Protea-landdroshof. Tshabalala sal ook van dronkbestuur aangekla word.
- Beeld