Jub Jub-getuie raak emosioneel in hof
2011-03-18 12:11
Johannesburg – ‘n Ooggetuie in die moordverhoor van die musikant Molemo "Jub Jub" Maarohanye en sy medebeskuldigde, Themba Tshabalala, het Vrydag in die Protea-landdroshof emosioneel geraak toe sy terugdink aan die ongelukstoneel op 8 Maart 2010.
Ndlovu het gesê ‘n silwergrys Mini Cooper het teen die wiele van ‘n blou motor vasgery.
Die blou Mini Cooper het daarna ‘n sypaadjie getref en ‘n groep skoolkinders raakgery.
Sy sê die kinders het saam met die motor in die lug gevlieg voordat die voertuig bo-op twee kinders beland het.
Twee ander kinders wat ook die lug ingeskiet het, het in bosse beland.
Ndlovu het onophoudelik begin huil toe sy aan die gruwelike ongelukstoneel teruggedink het, het Sapa berig.
Die twee jong mans staan tereg op tien aanklagte in verband met die moord op vier skoolkinders.
Andile Mtombeni (19), Phomelelo Masemelo (16), Mlungisi Cwayi (17) en Prince Mahube (17) is dood in die ongeluk.
Fumani Mushanana en Frank Mlabo het ernstige beserings, insluitende breinskade, opgedoen.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA