Jub Jub-aanklaer soek sy pos terug
2010-03-30 12:00
Johannesburg - 'n Gautengse staatsaanklaer gaan sy skielike verwydering uit sy pos, wat verband hou met die Jub Jub-saak, betwis.
Andre Lambrecht dink hy is skielik uit sy pos verwyder omdat hy Jub Jub se borgtogaansoek teengestaan het.
"Ons beskou dit as onregverdige arbeidspraktyk," het Manie de Clercq, adjunkhoofbestuurder van die Public Servants Assosiation (PSA), 'n staatsdiensvakbond, gesê.
"Ons wil hom terug in sy posisie hê."
Andre Lambrecht, 'n hoofstaatsaanklaer in Gauteng, was 'n hofbestuurder, maar is skielik gesê hy moet "vloerwerk" doen.
Hy is een van 14 staatsaanklaers wat beveel is om ander take te verrig.
De Clercq het gesê dié skuif kom ná hy geweier het om nie borgtog in die hip hop-kunstenaar Molemo "Jub Jub" Maarohanye se dramatiese borgtogaansoek verlede week teen te staan nie.
Maarohanye en sy medebeskuldigde, Themba Tshabalala, staan tereg op aanklagte van moord nadat hulle in ’n ongeluk ná ’n jaagtog in Soweto betrokke was waarin vier skoolseuns dood is.
Lambrecht het geweier om die opdrag uit te voer tensy hy dit op skrif ontvang, maar hy het nie so ’n skriftelike opdrag ontvang nie.
Hy het nie op adv. Menzi Simelane, hoof van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), se opdrag gereageer nie en die staat het Jub Jub se borgtog wel teengestaan.
De Clercq het gesê die skuif was heeltemal onverwags omdat dit nie voorheen bespreek is nie en dat PSA beplan het om die saak na die bedingingsraad te neem.
Mthunzi Mhaga, 'n woordvoerder vir die NVG, het gesê dié skuif het niks met die Jub Jub-saak te doen nie.
"Dit is eenvoudig deel van 'n herstruktureringsproses wat daarop gemik is om die beste en mees ervare staatsaanklaers op alle vlakke te hê."
Die salarisse van die 14 staatsaanklaers het nie verander nie.
Diegene wat geskuif is, is in KwaZulu-Natal en hooggeregshowe in Pretoria en Johannesburg.
– Sapa