Jub Jub: 'Ek het niemand doodgemaak nie'
2011-12-05 16:52
Johannesburg – Molemo "Jub Jub" Maarohanye het Maandag ontken dat dit sy motor was wat op 8 Maart verlede jaar in 'n 'n groep skoolkinders geploeg het.
"Ek het niemand gestamp nie. Toe ek die boom tref was daar niemand wat ek raakgery het nie," het hy in die Protea-landdroshof in die reaksie op vrae van sy prokureur Ike Motloung gesê.
Maarohanye en sy medebeskuldigde, Themba Tshabalala, staan tereg op aanklagte van moord, poging tot moord en bestuur onder die invloed van alkohol en dwelms.
Hy het gesê hy het eers later gehoor die kinders is dood toe hy in 'n polisievangwa op pad was na die Dube-polisiekantoor.
Ná 'n kort breek is hy gevra hoekom hy gehuil het. Hy het geantwoord: "Ek het vir 'n breek gevra omdat ek oorweldig was met emosies. Toe die ongeluk plaasgevind het, het 'n gedeelte van my gesterf. Dit is net jammer niemand weet waardeur ek moet gaan nie – die beledigings, negatiewe kommentaar – ek is regtig jammer oor wat daardie dag gebeur het. Ek is deel daarvan."
"Ek het dit nie beplan nie. Dit kon met enigiemand gebeur."
In reaksie op mediaberigte dat hy aan die families om verskoning gevra het nie, het hy gesê: "Ná so lank het ek steeds nie die voorreg gehad om die families te sien soos ek grootgemaak is om te doen nie."
"Ek het niemand doodgemaak nie. My medelye aan die families."
Maarohanye het verder ontken dat hy onder die invloed van alkohol en dwelms was en dat hy resies gejaag het.
Hy het gesê sy motor het 'n sypaadjie en 'n boom getref. Hy kon nie onthou wat daarna gebeur het nie.
Sy ontkenning het familielede van die vier kinders wat dood en twee ander wat ernstig beseer is, kwaad gemaak.
"Hy gaan homself b–k. Die kinders is nie deur bome doodgemaak nie," het 'n familielid uit die openbare galery geskree.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA