Joost sy werk by Supersport kwyt
2009-11-01 10:17
Johannesburg - SuperSport het die voormalige Suid-Afrikaanse rugbykaptein Joost van der Westhuizen afgedank ná hy erken het dat dit wel hy was wat in ‘n seksvideo verskyn en dwelms gebruik het.
Dié bekentenis verskyn in sy nuwe biografie, "Joost: Spieëlbeeld".
"SuperSport het na uittrekesels uit Joost van der Westhuizen se biografie gekyk... en gesprekke met hom gevoer," het ‘n verklaring gelui wat Sondag uitgereik is.
"Na aanleiding van dié gesprekke het SuperSport en Joost gesamentlik besluit om sy vryskut-kontrak te beëindig," het Supersport se woordvoerder, Clinton van der Berg, gesê.
"SuperSport bedank Joost vir sy bydrae as kommentator en aanbieder en wens hom sterkte toe vir die toekoms. SuperSport sal geen verdere kommentaar lewer oor die saak nie," het hy gesê.
SuperSport het Joost se dienste in Maart opgeskort ná die 24-jarige Marilize Van Emmenis erken het dat sy die vrou was in die seksvideo waarin Van der Westhuizen verskyn het.
In daardie stadium het hy ontken dat dit hy was wat in die video verskyn het, en hy het selfs die privaat speurder Mike Bolhuis ingespan om hom te help.
Hy het onlangs egter teenoor Rapport erken dat dit wel hy was in die video. "En ek is baie, baie jammer dat ek gelieg het," het hy in die onderhoud gesê.
"Vergewe my asseblief," het hy gevra.
Volgens Rapport gee Joost in sy biografie al die besonderhede van die “hel” waardeur hy sedertdien is, wat hom “van binne opgevreet en verteer" het.
Hy het erken dat hy nie net vir die publiek gejok het nie, maar ook vir sy vrou, die gewilde sanger Amor Vittone.
– SAPA