Joost na VSA vir 'beste mediese hulp'
2011-07-17 07:20
Johannesburg – Joost van der Westhuizen vlieg vanaand Amerika toe waar hy vir motorneuronsiekte (MNS) behandel gaan word.
Dr. Jody Pearl, ’n neuroloog by die Sunninghill-hospitaal in Johannesburg, het Saterdag aan Rapport gesê sy gaan Joost vergesel na die Cleveland-hospitaal in die deelstaat Ohio waar van die wêreld se beste neuroloë werk.
“In Suid-Afrika is daar net ’n paar spesialiste op hierdie terrein wat na duisende mense se spiersiektes moet omsien. In dié hospitaal het jy 20 medici wat met een pasiënt werk,” sê Pearl.
“En dis almal mense wat in hierdie spesifieke spiersiekte spesialiseer.”
Sy is Joost se enigste reisgenoot op dié besoek van agt dae.
“Joost gaan behandeling ontvang vir die siekte waaraan ons vermoed hy ly, MNS. En met hierdie behandeling poog ons om die beste mediese hulp vir hom te bekom,” sê sy.
Joost het in Desember verlede jaar al probleme met sy spiere ontwikkel, maar het eers in April vanjaar ’n dokter gaan spreek. MNS is voorlopig gediagnoseer.
Hy was baie emosioneel toe Rapport hom Saterdag gebel het.
“Ek hoop vir die beste,” is al wat hy amptelik wou sê.
Bridget van Oerle, sy woordvoerder, sê Joost is baie senuweeagtig oor wat vir hom in die VSA voorlê.
Hy het reeds die gebruik van sy een hand verloor.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport