Joost ly aan ernstige siekte
2011-05-12 21:47
Johannesburg - Die voormalige Springbok-rugbykaptein Joost van der Westhuizen is in ‘n stryd om sy gesondheid gewikkel nadat hy met ‘n motor-neuron-spiersiekte gediagnoseer is.
Die siekte is blykbaar soortgelyk aan dié wat ‘n voormalige spanmaat van hom, die Springbok-flank André Venter, ‘n paar jaar gelede in ‘n rolstoel laat opeindig het. Van der Westhuizen se diagnose word as “baie ernstig” beskryf en hou drastiese implikasies vir sy gesondheid in.
Van der Westhuizen, wat die Blou Bulle in 1998 en 2002 tot Curriebeker-glorie gelei het en een van die mees ervare spelers in die geskiedenis van Springbokrugby is, het by sy persoonlike dokter, dr. Henry Kelbrick, gekla van pyn in sy arm.
Hy is onmiddellik vir ‘n reeks toetse gestuur.
Toe die diagnose gemaak is, het die erns van die kwessie dr. Kelbrick genoop om Van der Westhuizen na twee neuroloë te stuur sodat sy behandeling kon begin.
Nie Van der Westhuizen of sy nabye familie is beskikbaar vir kommentaar nie, maar bronne na aan die speler het aan Supersport.com gesê die siekte is “baie ernstig” en kan enorme implikasies vir sy toekoms inhou.
Dr. Kelbrick wou nie uitbrei oor watter presiese siekte gediagnoseer is nie, aangesien Van der Westhuizen en sy familie gevra het dat hy nie dié inligting bekend maak nie.
Hy het gesê hoewel die siekte aangesien word vir ‘n soortgelyke siekte as dié van Venter, is dit eintlik “baie meer ernstig”.
“André se siekte het sy onderlyf geaffekteer. Hierdie siekte affekteer die hele lyf.”
Hy het egter gesê dit gaan in hierdie stadium nog goed met Van der Westhuizen.
“Hy funksioneer nog 100% en bly positief.”
“Sportpersoonlikheid Joost van der Westhuizen is met ‘n ernstige spierverwante senuweesiekte gediagnoseer. Van der Westhuizen se dokter, Dr. Kelbrick, wie ook ‘n nabye familievriend is, het opgemerk dat Joost probleme met sy regterarm ondervind het en het hom vir ‘n reeks toetse gestuur. Van der Westhuizen het ook twee neuroloë gesien en het onmiddellik behandeling begin ontvang. Die simptome is baie ernstig en wissel van persoon tot persoon,” het ‘n verklaring van Van der Westhuizen se publisiteitsagent, Bridget van Oerle, gelui.
“Die media word gevra om hul privaatheid in hierdie stadium te respekteer. Nie hy of sy familie sal vir onderhoude beskikbaar wees nie.”
Van der Westhuizen, wat aan drie wêreldbeker-rugbytoernooie vir die Springbokspan deelgeneem het, het vir ‘n geruime tyd vir Supersport as kommentator en aanbieder gewerk. Hy was onlangs in die nuus vir ‘n reeks skandale in sy persoonlike lewe wat tot die beëindiging van sy huwelik met die glanspersoonlikheid Amor Vittone gelei het.
- Supersport
- Volg Nuus24 op Twitter