Joost kry R176 000 uit veiling
2011-08-20 10:13
Die taaiste opponent waarteen hy op die rugbyveld uitgedraf het, was Joost van der Westhuizen, het die All Black-skrumskakel Justin Marshall gister op ’n geselligheid ter ere van dié Suid-Afrikaanse rugbylegende gesê.
Marshall, sy mede-Kiwi Ian Jones, tientalle oud-Springbokke, ander sportmanne en sowat 800 ondersteuners het die geleentheid in Pretoria bygewoon.
Marshall het vertel hy ken een Afrikaanse woord. Elke keer as hy met die bal verby Joost kon kom, het hy die woord “k*k” gehoor.
Die jaarlikse sportdag van die oud-Springbok Willie Kahts is vanjaar aan Van der Westhuizen opgedra.
R176 000 is met ’n veiling van 11 goedere ingesamel en is aan Van der Westhuizen gegee.
Menige groot rugbygees en -ondersteuners het ’n vogtigheid in die oë gekry toe Van der Westhuizen in die feestent verwelkom is.
Die groot Blou Bul-kaptein van toentertyd, Thys Lourens, het ook aangedaan sy arm om Van der Westhuizen gesit.
Die twee het daarna effens ongemaklik weggestaan van mekaar en teen die trane geveg – rugbyhelde huil mos nie.
Van der Westhuizen het effens mank geloop en sy spraak is ook duidelik aangetas deur die motorneuron-siekte wat onlangs by hom gediagnoseer is.
Lukas Viljoen, een van die organiseerders, het gesê Van der Westhuizen se grootste wedstryd (sy siekte) lê voor en dat almal glo God sal hom daarin bystaan.
Fonnie van der Vyfer, Van der Westhuizen se oud-skoolhoof van die Hoërskool F.H. Odendaal in Pretoria, het sy oudleerling se heel eerste Springbok-trui vir die veiling geskenk.
Van der Westhuizen het die trui destyds vir hom gegee.
’n Springbok-trui, ’n All Black-trui van Marshall en ’n Wallaby-trui van die Australiese oudkaptein George Gregan is vir R45 000 gekoop deur Gavin Varejes, voorsitter van die administrateurs van die Suid-Afrikaanse Rugbylegendesvereniging se presidentsfonds.
Van der Westhuizen het in sy toespraak die Springbok-baadjie wat hy gister aangehad het, uitgetrek en aan Varejes gegee.
Hy het sy kort toesprakie afgesluit met die vraag: “Why me?”
Hy het dit self beantwoord met ’n skouerophaling en: “Why not me?”
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld