Joost gaan hof toe oor sy kinders
2011-06-19 07:05
Johannesburg – Joost van der Westhuizen gaan ’n dringende hofaansoek teen sy vrou, Amor Vittone, bring om sy kinders meer te sien.
Robert Klinkenberg, sy prokureur, het Vrydagmiddag gesê hulle gaan ’n Reël 43-aansoek by die hooggeregshof verkry.
In so ’n aansoek word sekere tussentydse reëlings vervat, soos hoeveel onderhoud betaal moet word, wie voorlopige toesig oor die kinders kry, asook toegangsregte totdat die egskeiding afgehandel is.
In dié geval soek Joost meer besoektyd omdat “die huidige reëling tussen die paartjie nie werk nie”.
Die jongste drama in die Van der Westhuizen-sage kom terwyl daar steeds nog onduidelikheid is oor Joost se ongesteldheid.
’n Maand gelede is motorneuronsiekte by hom gediagnoseer. Joost sou die bevinding van ’n tweede dokter die afgelope Woensdag ontvang het.
Bridget van Oerle, sy woordvoerder, het Vrydag gesê: “Ons sal alle bevestigings (oor sy gesondheid) volgende week hê.”
Joost het kort nadat hy Amor om ’n egskeiding gedagvaar het, uit die egpaar se spoghuis in die noorde van Johannesburg getrek en woon nou in ’n meenthuis.
Hy sien die twee kinders, die vyfjarige Kylie en sewejarige Jordan, een keer elke twee weke.
“Die kinders is nou wel Vadersdag by hul pa, maar dis nie genoeg nie. En hy sukkel altyd om sy kinders te sien,” sê Klinkenberg.
Claudio Bollo, Amor se prokureur, sê: “Hoewel Joost Amor steeds nie oor sy siekte ingelig het nie en in ag genome dat sy die ma van sy kinders is, sal sy hom steeds toegang tot hul kinders verleen.
“My kliënt gaan nie die egskeiding in die media voer nie en sal te alle tye in die belang van die kinders optree,” sê Bollo.
Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport