Joost en dokter na VSA vir behandeling
2011-06-26 07:00
Johannesburg – Joost van der Westhuizen, eertydse Springbokheld, wend hom nou tot die Amerikaanse medici om vas te stel aan watter soort spiersiekte hy ly.
Hy vertrek binnekort na Amerika om behandeling te kry vir die siekte wat hom die afgelope paar maande platgetrek het.
Motorneuronsiekte (MNS) is voorlopig by Joost gediagnoseer.
Vier weke se behandeling by ’n neuroloog kon geen antwoorde oplewer nie.
Joost het verlede maand aan Rapport vertel hy het in Desember verlede jaar kort-kort die gebruik van sy regterarm verloor.
Sy spraak is ook erg aangetas.
Terwyl hy in April by Sun City met vakansie was, het sy vriend dr. Henry Kelbrick agtergekom Joost se arm is swak toe die twee in die swembad gestoei het.
Kelbrick het hom na ’n neuroloog verwys wat toe aan hom gesê het hy het MNS.
Die publiek het met skok gereageer op die nuus dat hy algaande die gebruik van sy arm verloor.
Joost het dr. Jody Pearl vir ’n tweede mening gaan spreek.
Joost sou toe vir vier weke behandeling by haar ontvang om die omvang van die siekte vas te stel, maar hy is steeds in die duister.
In Saterdag se verklaring sê Pearl: “Joost het nie gunstig gereageer op die behandeling die afgelope vier weke nie.
“Sy neurologiese simptome kom steeds voor en sy toestand is stabiel. Die diagnose van MNS bly ’n moontlikheid.”
Sy kon nie Saterdag sê presies waarvoor Joost behandel gaan word nie. Dit beteken Joost weet nog nie wat die toekoms vir hom inhou en of hy wel dié dodelike siekte het nie.
Pearl en Joost vertrek in Julie na die Amerikaanse staat Ohio, waar hulle die internasionale sentrum vir neurologie in Cleveland gaan besoek.
“Hier sal ons skakel met die wêreld se voorste neuroloë wat Joost se toestand gaan ondersoek,” sê Pearl.
Bridget van Oerle, Joost se woordvoerder, sê totdat hy presies weet watter siekte hy het, gaan hy nie meer met die media praat nie.
Gavin Varejes, voorsitter van die SA Rugbylegendesvereniging, borg Joost en die dokter se reis.
- Rapport