Joost en Amor wil tydskrif dagvaar oor gay-storie
2010-08-29 06:18
Gavin Prins
Johannesburg - Joost van der Westhuizen en sy vervreemde vrou, Amor Vittone, kan met reg vra: Wat gaan daar nóg oor ons sekslewens geskinder word?
Die tydskrif People het die afgelope week bewerings gepubliseer dat Joost troos vind in die arms van ’n ander man nadat sy huwelik met Amor verbrokkel het – en dat Amor nou ook in ’n lesbiese verhouding is.
Joost en Amor gaan nou albei regstappe doen teen dié tydskrif.
Amor het by navraag ontken dat sy ’n verhouding met ’n ander vrou het en Rapport toe na haar regsverteenwoordiger verwys.
Claudio Bollo, namens Amor, sê: “Dis baie duidelik dat die tydskrif (People) nie moeite gedoen het om die storie na te vors nie. En my kliënt is nie eens om kommentaar genader nie. Amor gaan tans deur ’n egskeidingsproses en haar reputasie kan nie sulke wilde gerugte bekostig nie.”
Hy het bevestig dat hulle ’n verskoning en regstelling van die tydskrif gaan eis. “Ons oorweeg ook regstappe omdat daar gronde is vir ’n lastereis.”
Robert Klinkenberg, namens Joost, sê hulle gaan beslis regstappe teen People doen.
“Die beweringe is van alle waarheid ontbloot.”
Angela Tsikoudakis, assistent-redakteur van People, sê hulle staan by hul storie en dat daar niks fout is met die berig nie.
“Ons het ’n oproep van ’n lid van die publiek gekry waarin die beweringe van homoseksuele en lesbiese verhoudings van die paartjie gemaak was. Ons het dit in die artikel baie duidelik gestel dat dit net gerugte is. Daar is geen gronde vir hulle om ons te dagvaar nie.”
*Joost en Amor oorweeg tans ook regstappe teen die produksiemaatskappy wat die pornografiese rolprent Amor – ’n Bok vir sports oor die seksskandaal van verlede jaar gemaak het.
*Albei se prokureurs het bevestig dat hulle die afgelope Maandag om die tafel gesit het om vas te stel hoe hul bates in die egskeidingsgeding verdeel gaan word.
Besonderhede word nog as vertroulik gehanteer.
- Rapport