Joost en Amor se spoghuis te koop vir R6,2m.
2011-08-28 11:00
Johannesburg – Die spoghuis van die oud-Bok Joost van der Westhuizen en sy vervreemde vrou, Amor Vittone, is te koop.
Die huis in die noorde van Johannesburg het vyf slaapkamers, ’n driedubbele motorhuis en ’n swembad en sal jou R6,2 miljoen uit die sak jaag.
Daar is ook ’n kelder waar Joost sy versameling wyne gehou het. Ook sy aandenkings, soos geraamde Bok-truie en rugbyfoto’s, het hier teen die muur gepryk.
Rapport het die afgelope week die huis op ’n bekende webwerf opgespoor waar verkopers hul eiendomme privaat aan belangstellendes aanbied.
Daar is foto’s opgelaai van die ruim huis wat as “gesofistikeerd en chic” beskryf word.
“Groot tuin met groen gras, groot ontvang-area. Gelukkige lewe. Vyf moderne slaapkamers verwelkom jou en daar is vier badkamers en ’n pyjama lounge. Die motorhuis het plek vir drie motors,” lui die advertensie.
Joost woon sedert hy sy vrou verlede jaar om ’n egskeiding gedagvaar het nie meer in die huis nie.
Rapport verneem die paaiement vir die verband beloop tans maandeliks sowat R35 000.
Motorneuronsiekte (MNS) is vroeg vanjaar by Joost gediagnoseer en hy is met siekteverlof terwyl hy behandel word.
Neuroloë het sy lewensverwagting op twee tot vyf jaar geraam, maar die rugbyheld is steeds hoopvol.
Hy het intussen ingestem om ’n proefkonyn te wees vir eksperimentele stamselbehandeling. Dit is behandeling wat vir die eerste keer op mense beproef word en neuroloë hoop om MNS hiermee te kan genees.
Dié nuus is verlede Dinsdagaand op ’n mediakonferensie in Midrand aangekondig waar Joost se dokter, dr. Jody Pearl, ’n neuroloog van Sandton, ook teenwoordig was.
Die behandeling is ontwikkel deur dr. Steve Ray, ’n Britse neuro-wetenskaplike wat al 20 jaar stamselnavorsing doen.
Joost moes die laaste tyd op skenkings staatmaak om sy mediese uitgawes te dek.
Met Amor gaan dit ook nie te voorspoedig nie. Haar kontrak met die Gautengse radiostasie Jacaranda 94.2 is beëindig en sy het haar bestuurder, Louis van Wyk, in die pad gesteek.
Die vermoede is dat die huis weens geldelike druk in die mark is, hoewel dit nie deur Amor of Joost bevestig kon word nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport