Joost dagvaar Amor
2010-08-06 06:15
Beeld
Johannesburg - Joost van der Westhuizen en Amor Vitonne gaan skei.
Van der Westhuizen, gewese Springbok-kaptein, het Donderdagaand aan Beeld bevestig dat hy “op regsadvies” opgetree het en Vittone om ’n egskeiding gedagvaar het.
Vittone, sangeres en TV-aanbieder, was Donderdagaand besig met werkverpligtinge en kon nie kommentaar lewer nie.
Met die dagvaarding word ’n einde gemaak aan een van die land se glanshuwelike. Van der Westhuizen en Vittone is in sekere kringe as die David en Victoria Beckham van Suid-Afrika beskryf.
Robert Klinkenberg, Van der Westhuizen se prokureur, het by navraag bevestig dat die balju van die hof in Randburg Donderdag die egskeidingsdagvaarding aan Vittone bestel het.
Hy kan nie oor die redes vir die egskeiding praat nie.
“Ek kan wel bevestig dat Joost vir Amor dagvaar om heeltemal ander goed as die video-debakel van verlede jaar.”
As Vittone die egskeiding nie betwis nie, kan die huwelik baie gou ontbind wees.
Die videodebakel waarna Klinkenberg verwys, het betrekking op die bohaai oor die sogenaamde Joost-seksvideo waarin Van der Westhuizen in sy onderbroek saam met ’n skamel geklede meisie verskyn. Van der Westhuizen snuif ook in die video dwelms.
Sowel hy as Vittone het toe gesê hulle wil aan hul huwelik werk. Vroeër vanjaar het Van der Westhuizen die egpaar se huis in die luukse woonbuurt Dainfern Valley in Johannesburg verlaat en by ’n vriend ingetrek.
Van der Westhuizen het Donderdagaand gesê hy is “werklik jammer dat die huwelik op só ’n manier tot sy einde gekom het”.
Hy wou ook nie uitwei oor die “ander goed” wat hom laat besluit het om Vittone om ’n egskeiding te dagvaar nie.
“Dit is op rekord dat Amor my al in Februarie in die openbaar vir die video-skandaal vergewe het. Die feit dat ek háár nou dagvaar, het dus hoegenaamd niks met die video te doen nie.
“Ek is en bly ontsettend lief vir Amor en ons kinders. Ek respekteer hulle en sal niks slegs of negatiefs van hulle sê nie.
“Tot baie onlangs het ek alles in my vermoë gedoen om ons huwelik te probeer red. Ek het my knieë deurgekruip en gesmeek. Nou het ons die einde van die pad bereik.”
Op ’n vraag of hy en Vittone op vriendskaplike voet is, het hy gesê: “Ek wil graag so glo.”
- Beeld