Joost, Amor: Seksvideo ís ter sprake
2010-08-14 07:00
Die gewraakte seksvideo waarin die oud-Bokkaptein Joost van der Westhuizen verskyn, ís ’n faktor in die egskeidingsgeding tussen hom en sy vervreemde vrou, die sangeres en TV-aanbieder Amor Vittone.
Vittone se prokureur, Claudio Bollo, het Beeld dié week skriftelik hiervan verwittig.
Hy het geskryf om beswaar te maak teen Beeld se berig Dinsdag onder die opskrif “Joost sien kinders week laas; ‘alle hel bars los’”, asook ’n vroeëre berig onder die opskrif “Amor weier om oor Joost te praat”.
In dié berig is onder meer geskryf “alle partye het ontken dat die opsienbarende Joost-seksvideo iets met die egskeiding te doen het”.
“Nóg me. Vittone nóg mnr. Bollo het ooit toegegee dat die sogenaamde seksvideo irrelevant is of niks te doen het met die egskeidingsgeding nie,” lui Bollo se brief aan Beeld.
“Die relevansie van dié voorval tot die egskeiding is nooit deur ons of deur ons kliënt ontken nie, soos wat die berig gelui het.”
Oor die bewering dat Van der Westhuizen nie sy kinders sien nie, het Bollo geskryf: “Die kinders sien inderdaad hul pa wanneer dit prakties moontlik is in soverre dit nie inmeng met hul religieuse, skolastiese, buite-muurse en sosiale bedrywighede nie.”
Beeld stel graag die korrekte feite en bied sy apologie aan vir enige misverstand.
- Beeld