Jong mense beseer in botsing
2011-11-29 09:02
Bloemfontein – ’n Jong vrou van Langenhovenpark, Bloemfontein, is in die intensiewe-sorgeenheid in die hospitaal nadat sy en ’n vriendin in ’n ongeluk van ’n bakkie af geslinger is.
Simone Hulun (22) en Lindy-Ann Cerff (in die 20), albei werknemers by Oolong Lounge in die stad, het agter op die bakkie gesit en is saam met die kappie afgeslinger toe hul bakkie reg van voor teen ’n Toyota Hilux-bakkie gebots het.
Die ongeluk het Sondagaand omstreeks 19:00 in Highstraat, Westdene, gebeur.
Volgens kapt. Chaka Marope, polisiewoordvoerder, het die bestuurder van die grys Ford Bantam-bakkie, Brett Whitfield (23), aan die verkeerde kant van die pad gery.
Hulun het ’n fraktuur aan haar onderarm en verskeie kneusplekke opgedoen en is in ’n stabiele toestand, het Amanda Appelgryn, woordvoerder van die Mediclinic Bloemfontein, gesê.
Cerff en Whitfield, ook ’n werknemer van Oolong Lounge, het ligte harsingskudding en geringe beserings opgedoen.
J.H. Lambrecht (62), die bestuurder van die Toyota, is ongedeerd.
Die jong mense, wat glo op ’n jaareindgeselligheid was, was op pad om die bakkie terug te neem.
’n Saak van roekelose en nalatige bestuur word ondersoek.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad