Jong ma in tronk ná sy baba vergiftig
2011-10-12 09:27
Johannesburg – ‘n Vrou is tronkstraf opgelê nadat sy haar drie maande oue baba met plaagdoder vergiftig het, het Beeld Woensdag berig.
Nita Shipalana (21) is Dinsdag in die Pretoriase streekhof tot 15 jaar tronkstraf gevonnis, waarvan vyf opgeskort is, nadat sy ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het.
Shipalana, van die spogbuurt Cornwall Hill, oos van Pretoria, het die dodelike middel “two step” by haar dogter se pap gevoeg.
Sy het dié chemiese plaagdoder by die pap gevoeg nadat die baba geweier het om giftige melk te drink.
Die klein Morongwa se ouers het haar na die Unitas-hospitaal in Centurion, Pretoria, geneem nadat sy begin braak en asemhalingsprobleme gekry het.
Die pa het glo gesê hulle moet eers hospitaal toe gaan nadat die “gif begin werk het.” Nie een van die ouers het by die hospitaal gesê die kind is vergiftig nie.
Kas Sami-Kistnan, aanklaer, het aan Beeld gesê die “weerlose baba se koelbloedige moord is vooraf beplan.”
Shipalana het skuld erken nadat haar twee broers die plaagdoder in die baba se pap gesien het. Hulle het haar na die polisiestasie geneem.
Daar word beweer dat Shipalana kwaad was nadat haar ma gesê het sy moet haar studies tydelik los sodat sy na haar baba kan omsien.
Die pa sal later verhoor word. Shipalana sal vir die staat getuig as deel van haar pleitooreenkoms.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA