John Block se klagstaat ellelank
2010-11-08 08:49
Die Burger
Kimberley - Die voorlopige klagstaat van John Block (43), LUR vir finansies, ekonomie en toerisme in die Noord-Kaap en agt medebeskuldigdes lees byna soos ’n spanningsverhaal.
Die nege word daarvan beskuldig dat hulle vyf jaar gelede tenderbedrog van altesaam R42 351 240 gepleeg het.
Block het die naweek deurgebring in ’n sel waar hy deur tientalle ANC-volgelinge besoek is.
Intussen het Cope vir ’n spesiale debat in die Noord-Kaapse wetgewer gevra waar Block se onmiddellike toekoms in sy ampstermyn bespreek word.
Block, voorsitter van die ANC in die provinsie, en Gaston Savoi (57), ’n skatryk sakeman van Uruguay, is Donderdag tydens hul vlugtige verskyning in die landdroshof as die opperbreine van die grootskeepse bedrogspul bestempel.
Block en Savoi, voorsitter van Intaka Investments, word sedertdien in enkelselle in die Transvaalsweg-polisiekantoor aangehou. Die twee hoor môre of die staat hul aansoeke om borgtog gaan teenstaan.
Luidens die voorlopige klagstaat het die voorraadbestuureenheid van die departement van gesondheid in die Noord-Kaap na bewering nie die kwotasies vir die verskaffing van watersuiweraars vir die Colesberg- en Calvinia-hospitale verkry nie. Dit het Block glo in onderduimse samewerking met Savoi en Fernando Praderi (58), ’n mededirekteur van Intaka Investments, verkry.
Block was toe die enigste aandeelhouer van Chisane Investments in Kimberley en mede-eienaar van Intaka Northern Cape saam met Savoi.
Die kwotasies is glo deur Savoi, Praderi, Ansano Romani (63), bemarkings- en verkoopsbestuurder van Grotto en Ronald Geddes (57), direkteur van Westpro Fluid Handling Systems, voorberei.
Sanjay Mitha (39), ’n voormalige direkteur van hospitaalopknapping en infrastruktuur van die departement van gesondheid in die Noord-Kaap, het die kwotasies glo aan Deon Madyo (40), voormalige hoof van die departement van gesondheid in die Noord-Kaap, en Daniël Gaborone (40) voormalige hoof-finansiële bestuurder van die departement, vir ondertekening gegee.
Block word van korrupsie beskuldig omdat hy glo van Maart 2005 tot April 2006 R772 000 van Savoi of Intaka Holdings gekry het om amptenare te beïnvloed om die tender vir die verskaffing van watersuiweraars aan Intaka Investments toe te ken.
Madyo word van korrupsie verdink omdat hy van Maart 2005 tot Januarie 2008 na bewering R672 269,41 van Savoi of Intaka Investments verkry het om amptenare te beïnvloed om die watersuiweraars se tender aan Intaka Investments toe te ken.
Madyo word verder daarvan beskuldig dat hy in dieselfde tyd R8 miljoen van Savoi of Intaka Investments gekry het om amptenare te beïnvloed om’n watersuiweraars-tender aan Intaka Investments toe te ken.
Madyo is deesdae ’n doktorale student aan die Universiteit van Pretoria. Dit is glo deel van sy “sabbatsjaar”. Hy gebruik al geruimte tyd die titel “doktor”.
Madyo, Block en Nelmarie Oosthuizen (35), ’n voormalige administratiewe beampte van die departement van gesondheid in Kimberley, word van geldwassery beskuldig.
Savoy, die hoofbeskuldigde, word van korrupsie en bedrog verdink. Die staat gaan 20 getuies roep.
Die verhoor begin op 18 Maart.
- Die Burger