Joernalis-arres 'moes intimideer'
2010-08-04 14:45
Johannesburg – Die inhegtenisname van die Sunday Times joernalis Mzilikazi wa Afrika was ‘ontwerp om te intimideer,’ het die redakteur van dié koerant gesê.
“Wa Afrika is deur ‘n groot aantal polisiebeamptes in hegtenis geneem tydens ‘n veldtog wat duidelik ontwerp is om te intimideer. Ek kan net aflei dat dit die ware dryfveer is van wat vandag plaasgevind het”, het Ray Hartley, redakteur van die Sunday Times gesê.
Wa Afrika is deur die polisie se elite-misdaadeenheid, die Valke, vir bedrog en dwarsboming van die gereg in hegtenis geneem is.
Volgens Hartley was Wa Afrika een van die joernaliste wat aan die artikel rakende die polisie se nuwe hoofkantoor in die Pretoriase middestad, geskryf het.
“Vir ons land se onthalwe hoop ek dat hy nie in hegtenis geneem is om hom te straf vir wat hy geskryf het nie,” het Hartley gesê.
Die koerant het prokureurs aangestel om Wa Afrika te verdedig en hulle probeer glo nog vasstel hoekom hy in hegtenis geneem is en waar hy aangehou word.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA