Joernalis glo deur polisie aangerand
2011-08-23 08:03
Johannesburg – ’n Polisievrou het ’n joernalis glo die naweek deur die gesig geklap nadat dié daarop aangedring het om ’n asemtoets vir alkohol te ondergaan.
Toe het polisielede haar na hul bus gedra, maar haar laat val toe sy sê sy is ’n joernalis, het Yolanda Barnard (32), vermaakverslaggewer van Sondag, Maandag vertel.
Sy het die Liedjieboer-kroeg in Olifantsfonteinweg, Midrand, Sondag omstreeks 16:15 verlaat. Sy het die dag saam met onder meer Kurt Darren en DJ Ossewa deurgebring om die sanger Pieter Smith se verjaarsdag te vier.
“Ek het ’n paar drankies geniet, maar het ook heelwat geëet. Ek het self huis toe bestuur, want ek was nie dronk nie. ’n Blok van die kroeg af is ek deur vier polisielede afgetrek. Ek het gevra waarom word ek afgetrek en een van hulle het geantwoord omdat ek wit is,” het Barnard gesê.
Die polisielede – drie mans en ’n vrou – het Barnard glo aangesê om hulle te volg en in hul minibus geklim. Sy het dit gedoen omdat sy geglo het hulle gaan haar na die naaste polisiestasie begelei, maar hulle het in ’n doodloopstraat stilgehou. Barnard het uitgeklim en haar rybewys en motorsleutels vir die polisie gegee.
“Ek wou weer eens weet hoekom ek afgetrek is. Die vrou het gesê: ‘Want jy is dronk.’ Ek het gevra hulle moet ’n asemtoets op my toepas, want ek weet ek is nie dronk nie. Die vrou het my toe met geweld deur die gesig geklap en vermoedelik ’n beentjie in my neus gebreek.”
Volgens Barnard het die vrou en een man haar bene en arms gegryp. Hulle het haar na die bus gedra terwyl die ander twee vir haar gelag het.
“Toe ek vir hulle sê ek is ’n joernalis het hulle my gelos en het ek op die teer geval. Ek het opgespring en myself in my motor toegesluit.”
Meer as ’n uur later het die polisielede blykbaar besluit hulle het genoeg gehad en het hulle terug in die bus gespring.
Barnard het gesê sy het uitgeklim en die polisielede vir haar rybewys en sleutels gesmeek. Hulle het dit uit die bus gegooi. Sy is nooit aangekla nie. “Ek het nou bang geword vir die polisie. Hoe kan mens hulle vertrou ná so ’n voorval?” het Barnard gesê.
’n Dokter het haar Maandag ondersoek en vermoed ’n beentjie in haar neus is moontlik gebreek.
Peet Bothma, redakteur van Sondag, het gesê die koerant neem nog altyd ’n sterk standpunt teen polisiewreedheid en aanrandings in soos wat elke ander koerant ook moet doen. “Ons ondersteun Yolanda ten volle in die kriminele klagte, asook die siviele eis wat sy gaan indien.”
Kapt. Agnes Huma, polisiewoordvoerder, het gesê Barnard het klagte van aanranding en intimidasie teen die polisielede aanhangig gemaak.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld