Joemat-Pettersson dalk premier van Noord-Kaap
2013-01-23 09:19
Kaapstad – Die omstrede minister van landbou, Tina Joemat-Pettersson, kan moontlik die volgende premier van die Noord-Kaap wees, berig Landbou.com.
Volgens die berig is Joemat-Pettersson 'n sterk kandidaat om die volgende premier van die Noord-Kaap te word.
Joemat-Pettersson is ondanks die vure wat sy verlede jaar moes doodslaan oor uitermatige besteding van R1,6 miljoen binne 'n jaar aan hotelverblyf, ongunstige landbou-uitsprake en besluite, weer verkies as lid van die ANC se nasionale werkkomitee (NWK).
Oor Joemat-Pettersson se herverkiesing tot die NWK sê prof. André Duvenhage, politieke ontleder aan die Noordwes Universiteit, dat vroue met 'n sterk profiel binne die ANC dun gesaai is. Die kwessie van verteenwoordiging veroorsaak dat die ANC met die minimum vrouekrag moet klaarkom. Dit is bekend dat 50% van die NWK se lede vroue moet wees.
Hy sê hoewel haar rekord as minister van landbou, bosbou en visserye sleg is, word sy tog genoem as moontlike premier van die Noord-Kaap.
Haar posisie binne die ANC word beskerm om haar waarskynlik te plaas as premier van dié provinsie of om haar te behou as 'n nasionale minister. Volgens Duvenhage sal die pos as premier nie 'n trappie laer wees as van dié van minister nie, maar dis eerder 'n vergelykbare pos.
Nóg ‘n naam wat as moontlike premier vir die provinsie genoem word, is Godfrey Oliphant, die adjunkminister van minerale hulpbronne.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA