Jhb-voorstede sonder water
2010-05-07 12:17
Johannesburg – Voorstede rondom Sandton en die ooste van Johannesburg is Vrydag sonder water gelaat, nadat die watertoevoer weens tegniese probleme gestaak is.
“Die voorstede in die oostelike dele van Johannesburg, soos Bramley, Wynberg, Savoy en Sandton is geaffekteer,” het Baldwin Matsimela, woordvoerder vir Johannesburg Water, gesê.
Tegnici het glo Donderdagaand aan ‘n foutiewe klep op die pyplyn gewerk toe hulle onderbreek is deur water wat elders uit een van die pype begin lek het.
“Die probleem is opgespoor en tegnici is besig om daaraan aandag te gee,” het hy gesê.
Na bewering sal dit nog sowat ses tot tien ure neem om die pype te herstel.
“Ons sal verskeie watertenks na woonbuurte uitstuur wat deur die tekort geaffekteer is. Dit sal as tydelike verligting dien totdat die probleem opgelos is.”
Verdere onderbrekings sal moontlik ook in die Fourways-area plaasvind.
- Sapa
Volg Nuus24 op Twitter.