Jhb-'skoonmaak': 95 vas
2011-03-06 19:55
Johannesburg - ‘n Lid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag tel onder die 95 mense wat Vrydag in Johannesburg in ‘n misdaadvoorkomingsoperasie in hegtenis geneem is, het die Gautengse polisie Sondag gesê.
Die polisie het ook op onwettige goedere van tot R8 miljoen beslag gelê tydens die skoonmaakoperasie, genaamd “Operasie Mayibuye”.
Operasie Mayibuye se mikpunk was om die stad Johannesburg “skoon te maak”.
Gekaapte geboue, onwettige drankwinkels, onwettige handel, onwettige sekuriteitswerkers, vervalste goedere en rommelstrooiery het onder die teikens van die operasie getel, het lt. kol. Lungelo Dlamini gesê.
“Ons wil hê Johannesburg moet weer word soos dit eens was... skoon en relatief misdaadvry.”
Hy het gesê daar is op 590 selfone, 1 000 vervalste DVD’s en R7 miljoen se vervalste goedere, insluitende klerasie en skoene van onwettige straathandelaars, beslag gelê.
Daar is ook op kokaïen, heroïen, vyf gesteelde motors en 60 taxi’s beslag gelê.
Agttien onwettige drankwinkels is gesluit en 14 veiligheidswagte, wat onwettig gewerk het, is in hegtenis geneem.
‘n Lid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag tel onder dié wat vir motordiefstal in hegtenis geneem is.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA