Jhb-man geskiet in rooftog
2011-05-05 18:31
Johannesburg - ‘n 56-jarige man is doodgeskiet tydens ‘n rooftog by ‘n onderneming Donderdag in Evaton, suid van Johannesburg, het die polisie gesê.
Volgens ao. Aubrey Moopeloa is Frans Khaisane omstreeks 02:30 in sy huis op die perseel van sy onderneming in Evaton geskiet deur vyf mans in balaklawamusse.
Die mans het aan sy deur geklop. Toe hy die deur oopmaak, het hulle hom by sy slaapkamer ingestoot en geld geëis.
Khaisane se 15-jarige seun, wat in ‘n ander kamer geslaap het, het wakkergeword van die geraas en na die slaapkamer gegaan om ondersoek in te stel.
“Hy het ‘n stok opgetel en een van die mans geslaan. Dit is toe hulle begin skiet het en Khaisane in die bors getref is,” het Moopeloa gesê.
Khaisane is op pad na die Sebokeng-hospitaal dood verklaar.
Die skieters het met ‘n onbekende hoeveelheid geld en drie selfone gevlug.
Die polisie ondersoek ‘n saak van moord en roof, het Moopeloa gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA