Jhb kry nuwe burgemeester
2011-05-24 15:14
Johannesburg – Die voormalige hoof van finansies van die Stad Johannesburg is dié metroraad se nuwe burgemeester. Parks Tau vervang Amos Masondo, wie se twee termyne na verlede week se munisipale verkiesing ten einde geloop het.
Tau sê transformasie sal tydens sy ampstermyn bo aan die agenda wees.
Die sekretaris van ANC in Gauteng, David Makhura het ook die name van tien ander burgmeesters in die provinsie aangekondig.
Mondli Gungubele en Kgosientsho Ramokgopa is weer onderskeidelik die burgemeesters van die Ekurhuleni- en Tshwane metrorade.
Makhura sê die party is teleurgesteld met sy vertoning onder die Indiër- en Kleurlinggemeenskappe in Johannesburg. Hy sê die ANC gaan opnuut strategieë opstel om die gemeenskappe terug te wen.
Die ANC het nie wyke in die noorde van Johannesburg en die oostelike voorstede van Pretoria gewen nie. Die ANC sê intussen president Jacob Zuma kan nie persoonlik verantwoordelik gehou word vir die daling in die steun wat die party in verlede week se munisipale verkiesing gekry het nie.
Die ANC se woordvoerder, Brain Sokutu, het verwys na berigte in die Sondagpers waarin gesê word dat president Zuma se kanse om vir 'n tweede termyn verkies te word verswak het. Hy sê die feit dat die ANC drie persent steun verloor het, kan nie net voor Zuma se deur geplaas word nie.
Die ANC gaan aanstaande jaar tydens sy nasionale kongres die partyleier vir die volgende vyf jaar verkies.
– RSG
Volg Nuus24 op Twitter