Jhb-beampte vas ná hy omkoopgeld vra
2012-12-22 15:00
Johannesburg – Die polisie het Vrydag 'n metropolisiebeampte in Johannesburg in hegtenis geneem nadat hy glo omkoopgeld van 'n motoris gevra het.
“Die beampte in sy laat twintigs is Vrydag deur lede van die
interne ondersoek-eenheid van die Johannesburgse metropolisiedepartement
(JMPD) in hegtenis geneem,” het Wayne Minnaar, hoofsuperintendent van
die JMPD gesê.
“Die beampte het ‘n motoris omstreeks 10:00 in
Comaweg in Soweto afgetrek nadat die vrou teen 104 km/h in ‘n 60 km/h-sone
gery het. Die beampte het glo aan die vrou gesê dat sy in hegtenis
geneem sal word tensy sy ‘n “ander plan” kan maak.”
Die vrou het na 'n kitsbank gegaan en R900 onttrek.
Sy het R700 aan die
beampte gegee en toe na haar motor teruggekeer waarna sy die voorval by interne sake aangemeld het.
“Die beampte is in hegtenis geneem en
word tans by die Moroka-polisiestasie aangehou,” het Minnaar bygevoeg.
Hy sal Maandag in die Protea-landdroshof verskyn op aanklag van korrupsie en omkopery.
Minnaar het 'n
beroep op die publiek gedoen om korrupte beamptes by 0800 002 587 te verkla of ‘n SMS aan 32840 te stuur.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA