Jeugreis na NY kos byna R250 000
2011-11-24 08:06
Kaapstad – ’n Reis verlede jaar na New York deur drie lede van die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap (Nyda) het byna R250 000 gekos.
Dít blyk uit ’n antwoord deur Collins Chabane, minister in die presidensie verantwoordelik vir monitering en evaluering, op ’n parlementêre vraag.
Die driestuks het tussen 22 en 27 Julie verlede jaar ’n hoëvlak-vergadering van die Verenigde Nasies bygewoon as deel van ’n Suid-Afrikaanse afvaardiging.
Athol Trollip, DA-LP, wou by Chabane weet hoeveel Nyda-lede die reis meegemaak het en wat die totale koste was.
Volgens Chabane het Andile Lungisa, die voorsitter, Steven Ngubeni, bestuurshoof, en Sakkie Moshapo, senior bestuurder vir internasionale betrekkinge en vennootskappe, die vergadering bygewoon. Hulle is benoem vanweë hul onderskeie verantwoordelikhede.
Die reiskoste het R180 023 beloop en verblyf R51 040. ’n Gesamentlike dagtoelae van R17 894 vir al drie lede vir die volle tydperk is ook betaal.
Die reis is deur Nyda gefinansier. ’n Verslag hieroor is aan die presidensie gestuur en dit is ook ter tafel gelê by die groepvergadering van direkteurs-generaal, het Chabane gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger