Jeugliga woedend oor Zuma-toespraak
2012-10-26 18:09
Johannesburg – 'n Besluit deur die ANC om 'n byeenkoms in die Oos-Kaap te hou waar pres. Jacob Zuma 'n toespraak sal lewer, terwyl die ANC-jeugliga (ANCYL) in dieselfde gebied byeenkom, kom neer op sabotasie, het die jeugliga Vrydag gesê.
"Hierdie byeenkoms, wat so vinnig gereël is, is niks anders as 'n blatante en onvolwasse poging om die aktiwiteite van die ANCYL te saboteer nie," het 'n verklaring deur die liga gelui.
Die jeugliga het twee maande gelede sy eie byeenkoms in Bizana gereël om die ANC-held OR Tambo op 'n Saterdag te vereer.
Zuma sal nou op die Sondag 'n toespraak by 'n ANC-byeenkoms in dieselfde gebied lewer. Dié byeenkoms is deur die provinsiale uitvoerende komitee gereël.
Die ANCYL het intussen besluit om sy eie byeenkoms, waar adjunkpres. Kgalema Motlanthe 'n toespraak sou lewer, uit te stel.
Die jeugliga het gesê hy sal nie "so laag daal" om toe te laat dat faksies die integriteit van die ANC ondermyn deur Motlanthe en Zuma teen mekaar af te speel op 'n "onooglike en onwaardige manier" nie.
Jackson Mthembu, woordvoerder vir die ANC, het op sy beurt gesê dit wil voorkom of daar 'n gebrek aan kommunikasie tussen die ANCYL en die ANC in die Oos-Kaap was.
Hy het gesê die provinsiale uitvoerende komitee het "maande gelede" gevra dat Zuma hulle toespreek.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA