Jeugliga wil nuwe lede werf met motors
2010-07-31 08:39
Kaapstad - Die ANC-jeugliga wil nuwe lede werf met Mini Coopers, motorfietsbyeenkomste en kerkdienste vir gelowige kaders.
Dít is van die voornemens wat dié organisasie in een van sy besprekingsdokumente vir die ANC se komende hoofraadsvergadering uiteensit.
In dié dokument, “Ekonomiese vryheid in ons leeftyd,” sê die jeugliga hy wil onder meer vleisbraaie en “modieuse bykomstighede” inspan om voortdurend in voeling met jong mense oor die spektrum te bly.
Die ANC-jeugliga wil ook uitreik na “gelowige jonges” en godsdiensbyeenkomste vir dié lede reël.
In die dokument beklemtoon die jeugliga deurgaans dat hy nie “onderdanig” aan die ANC is nie, maar ’n “outonome organisasie”.
“Die stigterslede van die jeugliga het nooit hulself as ’n soort voorskoolse vleuel van die ANC beskou nie.”
In die dokument word verder gewaarsku dat die jeugliga “baie dinge doen” waarmee ouer ANC-lede nie noodwendig “gemaklik” gaan wees nie.
“Die jeugliga moet die ANC radikaliseer en nuwe energie in hom inblaas. Jong mense moet leer by die ouer geslag, maar hulle moenie hul gebruike sonder meer na-aap nie,” lui die dokument.
Prof. André Duvenhage, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, het by navraag gesê die inhoud van die besprekingsdokument is tekenend daarvan dat die ANC ’n “algehele laagtepunt” bereik het.
Volgens Duvenhage moet ook daarop gelet word dat die jeugliga ernstig voorbrand maak vir bepaalde veranderinge in sy grondwet.
Al die voorgestelde veranderinge is daarop gemik om mag in die nasionale leierskorps te sentraliseer, het Duvenhage gesê.
“(Julius) Malema en kie wil dus sorg dat hulle eerbiedig word, maar dis net ’n organisasie wat in ’n krisis is wat so desperaat is om sy magsbasis te sentraliseer,” het Duvenhage bygevoeg.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger