Jeugliga wil Pil verplig vir 12-jariges
2011-05-04 07:32
Johannesburg – Die ANC-jeugliga wil hê dat meisies van 12-jarige ouderdom af verplig word om voorbehoedmiddels te gebruik.
In die liga se besprekingsdokumente vir sy nasionale kongres, wat volgende maand gehou word, voer die liga aan dat tienerswangerskappe ’n “terugkerende probleem in die samelewing” is wat “kommerwekkende vlakke in Suid-Afrika” bereik het.
Hy wil daarom die gebruik van voorbehoedmiddels verpligtend maak.
Die besprekingsdokument oor gesondheid en onderwys stel onder meer ook voor dat prostitusie gewettig word, die wettige ouderdom vir drankgebruik van 18 na 21 verander word en dat aborsies in alle staatshospitale en -klinieke gedoen moet word.
Die liga wil sy veldtog om voorbehoedmiddels op 12-jarige ouderdom verpligtend te maak aan sy veldtog vir gratis sanitêre doekies en “meer skoolklinieke” verbind.
Die Kinderwet maak voorsiening vir meisies om al op 12-jarige ouderdom toegang tot voorbehoedmiddels te kry, maar dit is nie verpligtend nie.
Statistieke SA en ’n navorsingsverslag van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) toon dat tienerswangerskappe met 10% van 1996 tot 2001 en nóg verder teen 2007 afgeneem het.
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld