Jeugliga tart weer die ANC
2012-02-17 07:00
Maryna Lamprecht en James-Brent Styan
Johannesburg – Die ANC-jeugliga se jongste aanvalle op die ANC is niks meer as ’n skynstandpunt vir die openbare oog nie, het adj.pres. Kgalema Motlanthe Donderdag gesê.
Die jeugliga het geen ander keuse nie as om aan die dissiplinêre besluite van die ANC gehoor te gee, het Motlanthe, ook adjunkpresident van die ANC, aan Die Burger gesê.
Dit kom nadat bestuurslede van die jeugliga Donderdag in die voorportaal van Luthuli-huis, die ANC se hoofkwartier, aangekondig het hulle gaan die besluit om Julius Malema en Floyd Shivambu te skors, verontagsaam.
Die liga aanvaar nie die besluit oor die skorsing nie en Malema sal as leier aanbly tot sy termyn in Junie 2014 verstryk, het hulle gesê.
“Die jeugliga-lekgotla het besluit die ANC kan Malema en Shivambu nie skors nie, net die jeugliga kan,” het ’n vasbeslote Ronald Lamola, adjunkleier van die jeugliga, gesê.
“Niemand gaan die president van die jeugliga uitskop nie.”
Malema en Shivambu het gister voor die ANC se nasionale tugkomitee (NTK) verskyn sodat versagtende en verswarende omstandighede oor hul straf verder aangehoor kon word. Hulle was nie self by die nuuskonferensie nie.
“Ons het geen voorneme om onsself buite die ANC te definieer nie en ons gaan die ANC nie hof toe vat nie,” het Pule Mabe, die jeugliga se tesourier-generaal, gesê. “Ons glo ’n politieke oplossing kan gevind word. Ons is een familie.”
Gwede Mantashe het gesê die jeugliga kan nie die besluit om Malema te skors, verontagsaam nie. “Wanneer ’n besluit deur die hoër liggaam geneem is, is dit verpligtend vir al die laer liggame. Al dink jy dit is onnosel en oningelig, is dit ’n besluit wat jy nie kan weier om te gehoorsaam nie.”
Motlanthe het gesê die ANC en sy jeugliga sal nooit skeur nie. “Ek is na hul lekgotla toe om aan hulle te verduidelik die verhouding tussen die ANC-moederliggaam en die jeugliga sal nie verbrokkel nie , want dit word deur reël 7.4 van die ANC se grondwet beheer. Dié reël sit uiteen wat hul rol is en waar hulle by die moederliggaam inpas.”
Gevra of dit hoegenaamd moontlik is dat die jeugliga nie op die bevele en straf van die ANC ag hoef te slaan nie, het Motlanthe geantwoord: “Dit is nie moontlik nie. Hulle het ’n grondwet en dié grondwet bevat bepalings en reëls oor tugstappe teen hul eie lede.”
Prof. Steven Friedman, ’n politieke ontleder, het gesê die jeugliga het sy hand oorspeel en sy standpunt is absurd.
“Die jeugvleuel van ’n politieke party is deel van die politieke party en nie outonoom nie.
“Die ANC sal nou moet standpunt inneem. As hy die jeugliga toelaat om die skorsing te minag, gaan hy ’n bespotting wees en bewys daar is geen dissipline in die party nie.”
Die ANC sal sy voet nou stewig moet dwars sit om te verhoed dat die jeugliga totaal buite beheer raak, het Friedman bygevoeg.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger