Jeugliga soos 'n muskiet in tent, sê Rupert
2011-07-29 09:02
Kaapstad - Johann Rupert het die ANC-jeugliga Donderdag met ’n muskiet in ’n tent vergelyk en Media24 het die jeugliga se aantygings teen dié maatskappy as onjuis en misleidend bestempel.
Dit was in reaksie op die jeugliga se sterk bewoorde verklaring van Woensdag waarin onder meer aangevoer is Rupert se familie het ’n meerderheidsbelang in die Naspers-groep, die beherende maatskappy van Media24.
Die jeugliga het voorts beweer die senior bestuur by Media24 bestaan geheel en al uit wit mans en dat dr. Wilmot James, DA-LP, in die direksie dien.
Mnr. Ashoek Adhikari, hoofbestuurder van Media24 se korporatiewe en regulatoriese sake, het Donderdag ’n amptelike verklaring namens Media24 uitgereik wat lui: “Media24 neem kennis van die jeugliga se verklaring waarin die maatskappy se integriteit bevraagteken word.
“Die verklaring is feitelik verkeerd en die bewerings misleidend.”
Adhikari het daarop gewys dat: die Rupert-familie nié onder Naspers se top100-aandeelhouers is nie; nie een van die bestuurders van die topvier bedryfsentiteite van Naspers se vier Suid-Afrikaanse sake-eenhede wit mans is nie; en dat James nié in die Media24-direksie dien nie.
“Bogenoemde is bewysbare feite,” het Adhikari bygevoeg.
James het dit Donderdag onomwonde gestel dat hy nie meer in Media24 se direksie dien nie.
“Ek het dié posisie in 2008 opgesê toe ek besluit het om die politiek te betree,” het hy gesê.
Absa wou nie Donderdag kommentaar lewer oor die jeugliga se verklaring nie, behalwe om te sê dat dié bankgroep “sy verbintenis tot kliëntevertroulikheid handhaaf”.
Dít kom nadat die jeugliga daarop gesinspeel het dat Absa se uitvoerende hoof, Maria Ramos, ook ’n rol kon gespeel het in die negatiewe kritiek teen sy leier, Julius Malema, veral omdat sy die jeugliga se beleid van nasionalisering teenstaan.
Rupert het Donderdagaand aan Die Burger gesê die ANC-jeugliga is “soos ’n muskiet in ’n tent”.
Hy wou nie verder kommentaar lewer nie, maar het vroeër aan die nuusagentskap I-Net Bridge gesê dit is vir hom nuus dat sy familie invloed binne Naspers het.
“Dit sal vir Koos Bekker (uitvoerende hoof) ook nuus wees.”
Hy het gesê as sy familie enige Naspers-aandele het, sal dit ’n “miniskule” belang wees wat sy oorlede pa, dr. Anton Rupert, oorspronklik besit het.
Intussen het Malema Donderdag vir die eerste keer openlik oor die omstrede Ratanang-familietrust gepraat, berig Die Burger se susterskoerant City Press.
Malema het by ’n hofsaak in Queenstown gesê verskeie sakelui het al geld in die Ratanang-trust se bankrekening gedeponeer omdat hy hulle gevra het om liefdadigheidsprojekte te help finansier.
City Press het die naweek berig dat ingeligtes aanvoer Malema gebruik geld uit die Ratanang-trust om sy luukse leefstyl te finansier.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger