Jeugliga op die rooi tapyt
2011-08-08 08:07
Anesca Smith en Philda Essop
Kaapstad - Die ANC-jeugliga gaan vandag ’n skrobbering kry oor sy halsstarrigheid en weerbarstigheid wanneer die ANC – met pres. Jacob Zuma aan die spits – die liga se leierkorps by Luthuli-huis in Johannesburg ontmoet.
’n ANC-woordvoerder, Brian Sokutu, het bevestig die swak dissipline in die jeugliga is hoog op die agenda nadat verskeie salvo’s verlede week van albei kante gevuur is.
Ingeligtes sê die geduld van Zuma en ander senior ANC-ministers met die jeugliga is nou naby aan politieke versadigingspunt en dat daar vandag nie mooi broodjies gebak gaan word nie.
Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, het die jeugliga verlede week daarvan beskuldig dat hy die ANC-leierskorps “vir die soveelste keer ondermyn”.
Op sy beurt was die jeugliga se woordvoerder, Floyd Shivambu, openlik uittartend teenoor ANC-leiers.
Volgens Sokutu wil hulle vandag se gesprek egter nie oor individue maak nie.
Julius Malema, jeugliga-leier, het hom die gramskap van die ANC-leierskorps verlede week op die hals gehaal toe hy gesê het hy het planne om ’n “bevelspan” saam te stel om weerstand te organiseer teen die president van Botswana, Ian Khama, se bewind.
Diplomate het laat blyk dat die ANC in die proses groot respek by buurlande verloor het weens sy gebrek aan optrede teen Malema se uitsprake.
Die Sunday Times het Sondag berig die ANC en topamptenare gaan op dié vergadering streng optrede teen Malema eis.
City Press het Sondag op sy beurt berig ’n maatskappy wat deur Malema se familietrust besit word, trek glo regstreeks voordeel uit multimiljoenrand-tenders in Limpopo.
Die Limpopo-regering het dié aantygings ontken.
Dit is nie bekend of al dié kwessies op vandag se sakelys is nie.
Prof. Susan Booysen, ’n politieke kenner aan die Universiteit van die Witwatersrand, het Sondag by navraag gesê sy verwag die gesprek gaan “vaderlik en broederlik” wees.
Volgens haar is die ANC-leierskorps terdeë daarvan bewus dat hy nie met die jeugliga moet “mors” nie.
“Hulle kan probleme optel in die aanloop tot Mangaung, waar die volgende ANC-leierskonferensie gehou word.”
Booysen het daarop gewys dat die ANC “ontsaglik baie” invloed het. “Hy mobiliseer op die grond en het baie meer invloed op takafgevaardigdes wat die konferensie gaan bywoon.”
Sy sal “hoogs verbaas” wees as die ANC streng teen die jeugliga optree.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger