Jeugliga betoog nie by Juju se appèlsaak
2012-01-23 07:00
Johannesburg – Die ANC-jeugliga beplan geen protesoptrede vir wanneer die appèlverhoor van Julius Malema, sy geskorste leier, Maandag in Johannesburg plaasvind nie.
“Ons wens ons leiers sterkte toe en hoop die tugkomitee sal in hul guns beslis,” het Lebogang Maile, Gautengse jeugliga-voorsitter, gister op ’n mediakonferensie gesê.
Volgens Maile het die jeugliga se provinsiale uitvoerende komitee in Gauteng onder meer dié verhoor bespreek en tot die slotsom gekom dat dit langtermyn- negatiewe gevolge vir die jeugliga mag inhou.
“Die tugproses beïnvloed ons leiers se kapasiteit om politieke kwessies te bespreek omdat hulle tans op die verhoor fokus,” het hy by navraag gesê.
Maile wou nie uitwei oor die verhoor of oor wie Malema en die ander vyf nasionale jeugligaleiers moontlik kan vervang as hul appèlle nie slaag nie.
“Ons kan nie meer daaroor sê nie. Ons het menings daaroor, maar sodra die tugproses afgehandel is, sal ons dié menings in ANC-strukture bespreek.”
Maile het die ANC-leiers ook gevra om nie “populistiese” stellings in die openbaar te maak nie.
“Leiers het die verantwoordelikheid om positief op kwessies te reageer.”
Hy het ontken dat dié stelling gemik is op Mathews Phosa, die ANC se tesourier-generaal wat onlangs in Limpopo kommentaar op Malema se tugverhoor gelewer het.
“Dit is ’n algemene stelling. Ons is nie vir of teen ’n leier nie. Ons ondersteun die ANC, nie individue nie. Individue mag kom en gaan, maar die ANC sal bly.”
Hy wou ook nie kommentaar lewer oor die nasionale regering se besluit om Limpopo onder administrasie te plaas nie.
“Ons weet nie wat daar gebeur nie, maar ons weet in Gauteng is die drastiese groei van die bevolking en die wanpersepsie van wat ongemagtigde besteding beteken die probleem.”
Hy meen die tesourie moet die verdeling van die provinsiale begrotings aanpas sodat dit in die spesifieke behoeftes van elke provinsie voorsien.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld