Jeugfees kos R100 miljoen, nie R69 miljoen
2011-02-08 15:13
Johannesburg – Die 17de Wêreldfees vir Jeug en Studente het R100 miljoen gekos om aan te bied, en nie R69 miljoen soos aanvanklik deur die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap aangedui is nie.
Die aankondiging is deur die agentskap se uitvoerende hoof, Andile Lungisa, in Midrand gemaak.
Hy sê die totale onkoste was R100 miljoen. Die fees is in Desember op die Pretoria skougronde aangebied.
Voor die fees het die Nasionale Loteryraad R40 miljoen aan die agentskap geskenk vir die organisering en aanbieding van die jeugfees.
Die presidensie het R27 miljoen geskenk en die departement van kuns en kultuur R3 miljoen.
'n Woordvoerder van die Nasionale Lotteryraad, Sershan Naidoo, sê 'n eerste paaiement van R24 miljoen is reeds oorbetaal, maar die agentskap moet eers 'n volledige vorderingsverslag indien voor die res van die geld oorbetaal sal word.
– RSG
Volg Nuus24 op Twitter