Jeugagentskap se salarisse kos R174 m.
2012-03-15 09:00
Kaapstad – Belastingbetalers gaan vanjaar R174 miljoen vir personeelsalarisse van die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap (Nyda) moet opdok.
Dit blyk uit ’n antwoord op ’n parlementêre vraag dat die R174 miljoen vir 500 personeellede se salarisse in die 2012-’13-boekjaar benodig word.
Dit sal 42% van die Nyda se totale begroting uitmaak. Collins Chabane, minister in die presidensie, het in antwoord op die vraag oor personeeluitgawes gesê die Nyda se personeelgetalle kan teen 2015 tot 2 152 toeneem.
Makashule Gana, DA-jeugleier, het in ’n verklaring gesê hy gaan Chabane vra om dringend in te gryp.
Volgens Gana dui vooruitskouings dat die Nyda se salarisrekening teen 2015 selfs groter as die liggaam se totale begroting van nagenoeg R419 miljoen sal wees.
Andile Lungisa, Nyda-voorsitter, het Woensdag gesê die Nyda stel nie salarisverhogings in nie, maar dit is die gevolg van arbeidsonderhandelinge en wetgewing.
“Wanneer ek om ’n pos aansoek doen, is daar reeds ’n salaris daaraan gekoppel – dit is nie ek wat die salaris vra nie.”
Gana het die openbare beskermer gevra om bewerings te ondersoek dat Steven Ngubeni, uitvoerende hoof van die Nyda, glo ’n spysenieringskontrak van R22 miljoen vir verlede jaar se omstrede internasionale jeugfees aan ’n familielid toegeken het.
Lungisa het die bewerings as kwaadstokery afgemaak en gesê: “Daar is ’n volledige verslag oor die jeugfees en waaraan geld bestee is. Ons boeke is oop. Kom kyk.”
Hy het gesê daar was geen belangebotsing wat ’n ondersoek na die nepotisme-bewerings noodsaak nie. “Geen kontrak is aan ’n familielid toegeken nie.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger