Jeug moet vrede maak met verlede – Jansen
2012-11-02 07:15
Johannesburg – Regeringstenders en politieke vriende kan slegs 'n paar mense help om suksesvol te wees, het prof. Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat, gesê.
"Nie almal sal so gelukkig wees nie. Die meeste sal moet werk om suksesvol te wees," het Jansen op 'n jeugberaad in die Vrystaat gesê.
"Jammer, premier," het Jansen aan Ace Magashule, premier van die Vrystaat, wat ook die beraad bygewoon het, gesê.
"Jy sal my onder die omstandighede beskerm."
Jansen het gesê byna al die land se jongmense sal moet hard werk en opleiding ontvang.
Hy het ook gesê die jeug moet vrede maak met Suid-Afrika se verlede nie.
"Ons moet verby ons demone leef.
"Indien dít nie bereik word nie, sal die land altyd in 'n krisissituasie terugval op velkleur en taal."
Hy het gesê Suid-Afrika se toekoms is nie vir mense wat kwaad is nie, maar burgers wat verby aspekte soos klas, kleur en gestremdhede kan kyk.
Jansen het ook gesê meer Suid-Afrikaners moet die waardes van oudpres. Nelson Mandela leer.
"Omring ook jouself met mense wat elke dag vir jou sê jy het opvoeding en opleiding nodig."
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA