Jeug kla oor 'pieperige' begroting
2011-03-24 09:06
Kaapstad - Die nasionale jeugontwikkelingsagentskap (NYDA) hou voet by stuk dat sy begroting van R386 miljoen vir vanjaar “hopeloos ontoereikend” is.
Steven Ngubeni, uitvoerende hoof van die NYDA, het die parlement gister oor die agentskap se strategiese planne vir die nuwe boekjaar ingelig.
Hy het herhaaldelik gesê die R1,2 miljard wat die NYDA in die volgende drie jaar van die tesourie ontvang, is ’n groot “twisappel”.
“Ons probeer nog sin daarvan maak, maar die navrae wat ons tot dusver van die tesourie ontvang het, is maar flou,” het hy gesê.
Dorothy Ramodibe (ANC), voorsitter van die parlementêre komitee oor vroue, kinders en mense met gestremdhede wat die NYDA se planne gister aangehoor het, het Ngubeni gelyk gegee dat hul begroting “baie beperk” is.
Maar Denise Robinson (DA) het hom egter daaroor gekonfronteer.
“Waarom sê jy die NYDA se begroting is beperk, maar byna die helfte daarvan word aan personeel se salarisse bestee?” wou sy weet.
Ngubeni het in antwoord op Robinson se vraag niks gesê oor die salariskwessie nie, maar haar wel daarop gewys dat daar “niks skort” met die NYDA se personeelsamestelling nie.
“Die samestelling van ons personeel is betaamlik, gegewe die mandaat wat ons moet uitvoer,” het hy gesê.
“Daar word van ons verwag om aan die verwagtinge van jong mense te voldoen,” het Ngubeni verduidelik. “Ons moet kantore in plattelandse gebiede oprig, want die jong mense wil warm lywe hê met wie hulle kan skakel.”
Ngubeni het later gesê die NYDA neem sowat 400 werknemers in diens.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger