Jeannine sterf aan oordosis medisyne
2010-03-15 06:45
Tracey-Lee Davis, Beeld
Johannesburg - Jeannine du Plessis (21), een van Cézanne Visser se slagoffers, is aan ’n oordosis medisyne dood voordat sy haarself kon ophang.
Beeld het vroeër berig dat Jeannine haar verlede naweek aan ’n boom in die Kgalagadi-omgewing in Botswana opgehang het.
Volgens Marié du Plessis, haar ma, het die polisie in Botswana en die nadoodse ondersoek nou daarop gedui dat sy van plan was om haarself op te hang, maar vermoedelik bedwelm was en dood is voordat sy dit kon doen.
Haar lyk is onder ’n boom met die tou reeds om haar nek gevind. Sy was volgens Marié MIV-positief.
Die Botswana-polisie het in die nadoodse ondersoek bevind dat haar dogter ’n oordosis skedule-7-medikasie, waaronder slaappille, geneem het. Geen vuilspel word vermoed nie en die saak is afgesluit.
Volgens Marié was dit medikasie wat voorgeskryf is om haar dogter met haar dwelm-rehabilitering te help. Sy was ’n heroïenverslaafde.
Haar dogter het vermoedelik klaar die medisyne gedrink toe sy verlede naweek sowat 100 m die bos ingeloop het.
Marié het gesê haar dogter het na bewering ’n tou om haar nek vasgemaak, maar sy was dood voordat sy dit om haar nek kon knoop.
“Sy het regtig probeer om uit die dwelmverslawing uit te kom. Sy het uitmekaar geval toe Johan (Fourie, haar vriend) wéér Botswana toe is en het toe besluit om saam met hom te gaan.”
Fourie werk in Botswana en hulle sou vir ses weke daar bly voordat hulle vir ’n week Suid-Afrika toe sou kom. Marié het gesê die paartjie was van plan om aan die einde van die jaar te trou.
Visser is onlangs aan seksdade, wat onsedelike aanranding in Jeannine se geval insluit, skuldig bevind en tot sewe jaar tronkstraf gevonnis.
Waarnemende regter Chris Eksteen het tydens Visser se vonnisoplegging gesê haar dade wek “weersin en afgryse”.
Marié het gister gesê die kommentaar wat die vorige berig oor haar dogter ontlok het, was ontstellend.
“Ek wil dit net duidelik maak dat Jeannine nooit een van die kinderhuiskinders was nie. Ek was ’n huismoeder en my drie dogters het saam met my in die kinderhuis gebly,” het sy gesê.
“Johan is ook nie Jeannine se kind se biologiese pa nie.”
- Beeld