‘Jansen moet waai’ - Sasco
2010-08-11 17:30
Bloemfontein - Die Suid-Afrikaanse Studentekongres (Sasco) het Woensdag gevra vir die onmiddellike bedanking van die Universiteit van die Vrystaat (UV) se visekanselier, prof. Jonathan Jansen.
“Sedert sy aanstelling as visekanselier by die UV het prof. Jansen van die een ramp na die ander gespring,” het Sasco in ‘n verklaring gesê.
Die liggaam beskuldig hom van “neigings tot diktatorskap”.
Sasco het gereageer op die UV se besluit om die studenteraad van Kovsies te skors asook om die studenteraadverkiesing van later vandeesmaand uit te stel. Jansen het ook enige aktiwiteite deur studenteverenigings wat met politieke partye verbind is verban, na aanleiding van ontwrigtinge tydens die Intervarsity-sportgeleentheid tussen die UV en NWU-Pukke.
Sasco- en SR-lede wat betoog het, het verskeie netbal- en hokkiewedstryde ontwrig, wat tot die afstel van sommige sportgeleenthede verlede Vrydag gelei het.
Sasco het gesê om “net swart lede” van die SR te skors is “rassisties en anti-transformasie”.
Sasco het gevra dat die “flou” klagtes teen die studenteleiers onmiddellik teruggetrek word.
“Dit bevestig net ons mening dat hierdie instituut bloot weier om te transformer en dat die aanstelling van ‘n swart rektor niks meer as kosmetiese grimering was nie,” het Sasco gesê.
Hulle het gesê dit is hul “laaste waarskuwing” aan die UV en het gedreig met ‘n “vloed van ongeëwenaarde betogings”.
Die UV se studentedekaan, Rudi Buys, het Sasco se aantygings dat die skorsing van die studenteleiers rassisties is, verwerp.
“Dit is ‘n belaglike aantyging. Al die studenteleiers wat betrokke was, is geskors – ongeag kleur.”
Hy het gesê die hofinterdik waarvoor die UV aansoek gedoen het was teen álle studente wat aan ontwrigtende aktiwiteite deelneem.
“Hierdie dreigemente is bloot ‘n voorbeeld… van die disfunksie van studentepolitiek op kampus,” het Buys gesê.
“Dit is belaglik om te vra dat die rektor moet bedank. Hy het die regte besluite geneem."
Buys sê die Studente Transformasieforum, wat die UV tans in werking begin stel, bewys dat die studentebeweging die nodige herkenning kry.
- SAPA