Jansen: Onderwys gaan land verwoes
2011-05-16 09:11
Franschhoek - “Korrupsie gaan nie die land verwoes nie. Misdaad gaan nie die land verwoes nie. ’n Swak onderwysstelsel gaan die land verwoes.”
Dít is die waarskuwing van prof. Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat, onderwyskundige en skrywer van die boek Kennis in die Bloed.
Jansen was Saterdagoggend met Melvin King, hoof van die Franschhoekse laerskool Bridge House, en Anne van Zyl, hoof van die Oprah Winfrey Academy suid van Johannesburg, in gesprek by die Franschhoek Literêre Fees.
Die kletsradio-aanbieder John Maytham was die voorsitter van dié praatjie met die titel “How to fix our schools”.
Ook King sien nie ’n rooskleurige prentjie nie.
“Opvoeding is in ’n krisis. Daar is eenvoudig nie ’n wil om dit op te los nie.”
Die regering en onderwysvakbonde, veral Sadou (Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysunie) is gekasty.
Volgens Van Zyl het die vakbonde ’n “wurggreep” op die onderwysstelsel en Jansen meen daar is nie die nodige politieke wil om hulle in die bek te ruk nie. King het ook gesê vakbonde hoort nie in skole nie.
Jansen het die volgende wekroep onder applous van die gehoor aan joernaliste en skrywers gerig: “Begin ’n politieke krisis. Skryf: ‘Ons is gatvol!’
“Hulle (politici) gee nie om vir opvoeding nie, maar hulle gee om oor hul politieke beeld,” het hy voortgegaan.
Ook King het gesê joernaliste moet sterker oor opvoedingsprobleme berig.
“Eerder as toilette,” was Jansen se tussenwerpsel.
King het gesê die breër samelewing moet ’n groter rol speel. Hy het gesê sosiale probleme sluip saam met kinders die skole in en dan word die onderwysers ook daarmee gekonfronteer.
“Jy kan nie ’n honger kind leer nie,” het hy gesê.
Van Zyl het voorgestel daar moet na die voorbeelde van uitnemende skole gekyk word.
Jansen was egter skepties hieroor, omdat hy meen wat een skool suksesvol maak, gaan nie noodwendig by ’n ander skool werk nie.
“Die probleem is polities. Jy moet ’n politieke oplossing vind,” het hy gesê.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger