Jan Taks vat geld uit jou bankrekening as jy skuld
2010-07-02 07:48
Gauteng - ’n Verrassing wag in September op honderdduisende belastingwanbetalers wanneer die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) uitstaande belasting en boetes uit hul bankrekenings of selfs van hul salarisse verhaal.
Dit kan gebeur nadat die SAID ’n miljoen kennisgewings van boetes aan wanbetalers gestuur het, maar die reaksie daarop teleurstellend was, het die diens gister aan die begin van die belastingseisoen gesê.
Individuele belastingbetalers en trusts kan van nou af hul opgawes vir die afgelope belastingjaar indien.
Oupa Magashula, kommissaris van die SAID, het gesê al is WB 2010 aan die gang, begin die indieningstydperk op dieselfde datum as in 2009.
Individue en trusts wat hul opgawes per pos of per hand indien, het tot 30 September vanjaar kans om dit te doen.
Dié wat dit elektronies indien of dit by ’n takkantoor doen, het tot 26 November tyd.
Vir dié wat as voorlopige belastingbetalers geregistreer is, is die sperdatum einde Januarie volgende jaar.
Volgens Magashula het die SAID teen 31 Mei 13 miljoen belastingsertifikate van 226 000 werkgewers ontvang.
Dié inligting is gebruik om belastingbetalers se opgawes vooraf in te vul.
Magashula het gesê foutiewe bankrekenings was verlede jaar een van die grootste probleme waarmee die SAID geworstel het.
Lees die volledige berig oor belastingwanbetalers en meer oor die belastingseisoen in Sake24.
- Beeld