Jakes Gerwel vir 'wysheid, leiding' onthou
2012-11-28 10:43
Johannesburg – Die Nelson Mandela-gedenksentrum het namens Mandela, die
raad van trustees en die personeel hul medelye betuig met die familie
van hul voorsitter, prof. Jakes Gerwel.
Gerwel het Woensdagoggend in die ouderdom van 66 in die Netcare Kuilsrivier-hospitaal gesterf.
"Ons sal diep verlang na 'prof', soos ons liefdevol na hom verwys het," het die sentrum gesê.
"Ons stigter (oudpres. Mandela) het jare lank saam met prof. gewerk, deur sy presidentskap en lank ná sy aftrede.
"Toe
Madiba in 1999 ná een termyn as president van Suid-Afrika uitgetree
het, het professor Gerwel, sy direkteur-generaal, die kantoor van die
president verlaat om by Madiba aan te sluit vir sy presidensiële werk ná
sy presidentskap.
"Prof. het die Nelson Mandela-stigting se raad
van trustees en personeel gelei deur ons onlangse oorgang na die Nelson
Mandela-gedenksentrum.
"As uitvoerende hoof van die gedenksentrum, het mnr. Achmat Dangor gesê: 'Ons sal sy wysheid en kalm leiding mis'."
Die 66-jarige Gerwel was Dinsdag in 'n kritieke toestand nadat hy vroeër
vandeesmaand 'n drievoudige hartomleidingsoperasie ondergaan het.
Gerwel
is op 18 Januarie 1946 in die Oos-Kaapse dorp Somerset-Oos gebore
en het aan die Hoërskool Paterson in Port Elizabeth gematrikuleer.
Die familie het gevra dat hul privaatheid die volgende paar dae gerespekteer word.
Begrafnisreëlings sal later volg.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA