Jack Russell red vrou van pofadder
2012-01-21 20:00
Johannesburg – ‘n Veertienjarige Jack Russell het ‘n pofadder doodgemaak terwyl die slang aan ‘n vrou se toon gehang het, het die slagoffer, wat ‘n boer in die Jakkalsdal-streek in die Noord-Kaap is, Saterdag aan Sapa gesê.
Joy Weston (68), van die plaas De Villiershoop, het Donderdag omstreeks 16:00 deur haar erf gestap om werkers van Eskom te groet, toe sy per ongeluk op die dodelike slang getrap het.
“Ek kon nie die slang kry om te los nie,” het sy gesê.
“Monty het dit gegryp en doodgemaak.”
Weston het aanglip-sandale aangehad. Een van die slang se tande het in haar toon ingesink en die ander een in haar skoen.
Die pofadder was ‘n baba wat sowat 40 cm lank was, het sy gesê.
Haar man, dr. Neville Weston, ‘n uroloog van Kimberley, het pas by die huis aangekom en het sy vrou onmiddellik na die dorp, wat 48 km van die plaas is, geneem vir behandeling.
Sy is Saterdag ontslaan en sy voel baie beter, maar was steeds in skok. Haar toon kon gered word.
Die slang is in formalien gepreserveer om vir die Westons se sewe kleinkinders te wys.
In die tussentyd word Monty soos ‘n held behandel.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA