Jaagduiwel in hof oor omkopery
2010-11-25 11:11
Johannesburg – ‘n Agt-en-dertigjarige man sal Donderdag in die Johannesburgse landdroshof verskyn nadat hy probeer het om ‘n metropolisie-beampte om te koop.
Die man, wat glo gejaag en roekeloos bestuur het, is Woensdag in Kibler Park in Johannesburg deur die beampte voorgekeer, het hoofsupt. Wayne Minnaar gesê.
“Hy het op Impalaweg gery en is gevang waar hy 95km/h in ‘n 60km/h-sone gery het. Toe die beampte hom aftrek om vir hom ‘n boete te gee, het die man probeer om hom met R900 om te koop.”
Volgens Minnaar is die man in hegtenis geneem en dieselfde dag op R1 000 borgtog vrygelaat.
Hy sal na verwagting Donderdag op aanklagte van omkopery en korrupsie, roekelose bestuur en oorskryding van die spoedgrens in die hof verskyn.
Minnaar het motoriste aangemoedig om nie polisiebeamptes te probeer omkoop nie, aangesien hulle in hegtenis geneem sal word.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA