JZ, kry ‘die operasie’, beveel Kerkbode aan
2010-02-20 12:39
Neels Jackson
Die Kerkbode moedig pres. Jacob Zuma in sy jongste uitgawe aan om vir “die operasie” te gaan.
Dié koerant van die NG Kerk meen die president het gans te veel kinders, veral uit ’n ekologiese hoek beskou.
Die blad skryf in sy redaksionele kommentaar Zuma behoort nie net “weens sy flukse libido” op die vingers getik te word nie.
“Sy letterlike vermenigvuldiging van mense is iets waaroor die aarde van hom rekenskap gaan vra.”
Die Kerkbode verwys daarna dat Zuma Suid-Afrika in Kopenhagen verteenwoordig het waar hy leiers van die ontwikkelende lande aangepor het om iets vir die aarde se toekoms te doen. Hy weet “dat oorbevolking ’n belangrike rat in die komplekse saak is”.
Die blad verwys onder meer daarna dat daar teen 2020 reeds te min drinkwater vir almal in Suid-Afrika kan wees.
As Zuma as rolmodel nagevolg gaan word, gaan ander mans ook vrye teuels aan hul drange gee.
“Mnr. Zuma kan sy apologie opvolg deur vir die operasie te gaan. En dit bekend te maak,” skryf die Kerkbode.
* Die NG Kerk se moderamen het ook in die lig van die onthullings oor Zuma besluit om ’n pastorale brief aan hom te rig. Die inhoud daarvan word egter nie bekend gemaak nie.
- Beeld