JZ 'beskerm politieke vriende'
2011-11-30 09:05
Kaapstad – Pres. Jacob Zuma en Maite Nkoana-Mashabane, minister van internasionale betrekkinge, vertolk die Weense Konvensie “opsetlik” verkeerd, het die DA gesê.
Kenneth Mubu, DA-woordvoerder oor internasionale betrekkinge, het Dinsdag gesê ingevolge art. 36 van die Weense Konvensie is diplomate se bagasie van inspeksie kwytgeskeld, maar niks daarin verhoed dat die bagasie met ’n x-straal-masjien deursoek word nie.
“Selfs dié voordeel word laat vaar indien die vermoede bestaan dat die bagasie verbode goedere bevat soos wat beheer word deur die wet of deur die kwarantyn-regulasies van die betrokke staat.”
Hy het ook gesê die Internasionale Burgerlugvaartowerheid bepaal dat diplomate onderwerp word aan roetine-ondervraging oor hul bagasie voor vlugte omdat dit op burgerlugvaart-sekerheid van toepassing is.
Zuma het Maandag opdrag aan die regering se protokol-eenheid gegee om te sorg dat geen minister weer gedwing word om op ’n lughawe ’n handsak deur ’n skandeermasjien te sit nie.
Hy het in ’n skriftelike parlementêre antwoord gesê die Weense Konvensie verleen sekere voorregte en vrywaring aan mense met ’n sekere statuur, soos ministers.
Die president het verwys na ’n voorval in September toe Nkoana-Mashabane geweier het om haar handsak deur ’n skandeerder op ’n Noorse lughawe te sit.
Sy het gevolglik haar kommersiële vlug verpas en die regering het meer as R200 000 opgedok om ’n private straler vir haar te huur sodat sy haar verpligtinge in Bulgarye kon nakom.
Mubu het gesê dit beteken die opdrag wat die president aan die protokoleenheid gegee het, is ’n oortreding van die beginsels van die Konvensie.
“Daar is net een logiese afleiding wat gemaak kan word – óf die president het swak advies gekry óf hy was opsetlik oneerlik en het die reëls verkeerd vertolk om sy politieke vriende te beskerm.”
Mubu het gesê Suid-Afrika se ministers moet bereid wees om hulself aan dieselfde regulasies as alle ander buitelandse diplomate te onderwerp. “ ’n Mens kan nie anders as om te wonder wat ons diplomate met hul saamdra en wat hulle so graag in hul bagasie wil versteek nie.”
Clayson Monyela, Nkoana-Mashabane se woordvoerder, kon nie vir kommentaar bereik word nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger