JHB-munisipaliteit wil dokumente geheim hou
2012-07-27 18:17
Johannesburg – Die ANC in Johannesburg wil reëls optrek om die geheimhouding van dokumente deur die stad se munisipaliteit moontlik te maak, het die DA Vrydag beweer.
"Laasnag [Donderdag], het die ANC in Johannesburg voorgestel dat die stad sy eie reëls oor geheimhouding ontwikkel," het Mmusi Maimane, 'n woordvoerder, gesê.
Hy het gesê die ANC-raadslid Sol Cowan het voorgestel dat reëls opgestel word wat die stad sal toelaat om sekere dokumente as "sensitief" te klassifiseer, wat sal beteken dat dit nie aan die publiek vrygestel sal word nie.
Die DA en alle ander opposisiepartye het die voorstel teengestaan, het Maimane gesê.
Die ANC het geweier om oor die voorstel debat te voer, en die opposisie het uitgeloop.
"Die enigste motivering vir sulke reëls is om korrupsie en wanadministrasie toe te smeer," het Maimane gesê.
Die ANC het vir die reëls oor geheimhouding gevra ná die DA die wettigheid van kontrakte bevraagteken het wat die stad onderteken het vir die aanbied van Mej. Wêreld in 2008 en 2009, het hy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.