Is Oudtshoorn teken van die ANC se opmars?
2010-10-10 10:20
Die ANC meen die afgelope week se uitslae in tussenverkiesings in Oudtshoorn toon die politieke wind draai teen die DA, maar die DA meen nie so nie.
Vir die eerste keer in 18 maande het die ANC Woensdag wyke by die DA/OD in die Wes-Kaap afgeneem toe hy Oudtshoorn se wyke 5 (Dysselsdorp) en 12 (deel van Bridgton) naelskraap ingepalm het.
Albei wyke is sedert 2006 deur die OD gehou. Die tussenverkiesings is veroorsaak deurdat die twee OD-raadslede nie met die DA wou saamwerk in die stadsraad nie, toe bedank het en nou onder die ANC-vaandel herkies is.
In Dysselsdorp het die ANC 810 stemme gekry, die DA 719, Icosa 308 en Cope 129.
In Bridgton het die ANC 1 161 stemme getrek en die DA 988.
Dit beteken die ANC sal nou die stadsraad van Oudtshoorn beheer en is ’n gevoelige terugslag vir die momentum van die DA en OD so kort ná hul samesmeltingsooreenkoms.
Oudtshoorn is allerweë bekend as een van die onstuimigste stadsrade in die Wes-Kaap en die plek waar (naas die naburige stadsraad in George) die verhouding tussen die DA en OD die stramste is.
Die stadsraad was tot onlangs onder administrasie weens die onenigheid en wanbestuur waardeur dit gekenmerk is.
Oudtshoorn was al een keer in sy bestaan – met ’n tussenverkiesing in 1972 – ’n weerhaan wat die veranderende wind in die Suid-Afrikaanse politiek aangetoon het.
Nadat die destydse opposisie, die Verenigde Party (VP), ’n reeks sterker vertonings teen die bewindhebbende Nasionale Party (NP) gelewer het, het die NP die VP vernietigend verslaan en die finale agteruitgang van die VP ingelui.
Is Oudtshoorn weer ’n weerhaan? Ja, sê Mandla Dlamini van die Wes-Kaapse ANC se tussentydse bestuur.
“Ons grafiek wys opwaarts en met harde werk kan ons die Wes-Kaap terugwen. Ek het nog altyd gesê dis moontlik as ons strukture op grondvlak funksioneer, hard werk en met gemeenskappe saamwerk.
“Dit het in ons guns getel dat OD-lede ontevrede is omdat hulle nie geraadpleeg is oor die samesmelting met die DA nie, en oor ons voormalige OD-lede as kandidate kon stel.”
Maar Jonathan Moakes, hoofamptenaar van die DA, meen dis wensdenkery van die ANC om aan te voer die politieke wind draai.
“Natuurlik sou ons graag wou wen, maar die feit is dat DA-steun in Dysselsdorp toegeneem het van 5% na 45% vergeleke met 2006, en in Bridgton van 21% na 35%.
“Hierdie twee gebiede was nog altyd taai vir die DA, maar nou is ons op die rand van oorwinnings in albei. Ses maande van ANC-regering behoort genoeg te wees vir ons om in volgende jaar se munisipale verkiesings te wen.”
- Rapport