Inwoners gekant teen F1 in Kaap se strate
2011-07-07 08:45
Kaapstad - Inwoners van Groenpunt het Woensdag koue water op die planne vir ’n Formule Een-straatwedren in dié buurt gegooi deur die projek teen te staan.
Die Cape Town Grand Prix-bodmaatskappy voer tans onderhandelings met Formule Een se grootbaas, Bernie Ecclestone, oor die moontlikheid om ’n wedren in die strate van Groenpunt te hou.
Beverley Schafer, wyksraadslid in Groenpunt en Mouillepunt, het Woensdag gesê inwoners is gekant teen die idee dat die wedren in die strate van Groenpunt en Mouillepunt plaasvind.
“As wyksraadslid is ek en die inwoners heeltemal teen so ’n voorstel gekant. Daar is geen twyfel dat die Grand Prix groot voordele vir die stad kan inhou nie wat betref die inkomste wat dit kan genereer.
“Terwyl die konsep baie romanties klink, glo ons nie dit hou enige voordele hoegenaamd vir ons in nie. Dit sal eerder ’n hoop uitdagings en ongerief vir inwoners veroorsaak, wat gereeld toenemende gebeurtenisse en aktiwiteite sal moet verduur wat by die Kaapstad-stadion en Groenpuntmeent gehou word.”
Volgens Schafer is daar tans 45 ha ongebruikte grond naby Killarney wat moontlik vir dié doel ontwikkel kan word, asook verder noord in die gebied van Atlantis.
Daar word verneem die Kaapse straatren is die enigste ernstige bod wat tans oorweeg word.
Intussen sal ’n vergadering tussen Cape Town Grand Prix en Fikile Mbalula, minister van sport en ontspanning, die toekoms van ’n Formule Een Grand Prix hier bepaal.
Ecclestone is aangehaal waar hy sê ’n kontrak om die wedren in Kaapstad aan te bied word tans gefinaliseer.
Esther Henderson, woordvoerder van Cape Town Grand Prix, het dít egter Woensdag teenoor Die Burger ontken. “Geen kontrak is al in verband met ons bod opgestel nie.”
Henderson het gesê hul bod kan nie sonder die ondersteuning van die regering suksesvol wees nie.
“Ons het die regering se goedkeuring nodig. Ons wil met die minister vergader om ons bod te bespreek en wag net vir ’n datum van sy kantoor.”
Sonder die regering se goedkeuring sal dit onmoontlik wees om borge vir die wedren te kry. Volgens Henderson is daar reeds heelwat belangstelling in hul bod.
Sy het gesê hulle het ’n verteenwoordiger in Londen wat met Ecclestone in kontak is en ook ’n Formule Een-renbaanontwerper met wie hulle tans gesels.
“’n Straatren is die enigste voorstel wat ons op die tafel plaas. Ons stel nie belang om ’n nuwe baan te bou of ’n potensiële wit olifant te skep nie.”
- Die Burger